BUITENPOSTEN-L Archives

Archiver > BUITENPOSTEN > 2009-08 > 1250097166


From: Daniel Jacobs <>
Subject: [BP] VANDAG IN DIE GESKIEDENIS: STERFDAG VAN SAGMOEDIGE NEELSIE
Date: Wed, 12 Aug 2009 19:12:46 +0200


Beste Vriende

Cornelis Jacob Langenhoven, bekende Afrikaanse taalstryder, skrywer,
joernalis, politikus en redenaar is op 12 Augustus 1873 op Hoeko in
die Ladismith-distrik gebore.

Hy was ‘n vroeggebore baba. Die rede daarvoor was waarskynlik die
skok wat sy moeder (Rachel MS Blignaut) opgedoen het toe sy ouer
broertjie enkele dae tevore in ‘n strooihuis verbrand het. Vyf dae na
sy geboorte is sy moeder oorlede.

Hy word gevolglik groot by sy Pa se ouer broer wat met sy Ma se ouer
suster getroud was. Sy Oom en Tante is vir hom Pappie en Mammie,
terwyl hy altyd na sy eie pa as “Anderpa” verwys. Hy word groot op
Hoeko saam net nog vier aangenome kinders. Die skrywer van die
artikel oor hom in Deel 1 van die Suid-Afrikaanse biografiese
woordeboek sê: “Hy
word reeds vroeg geboei deur die natuurskoon van die plaas sowel as
die ouderwetse, egte Afrikaanse gees van die ‘ouerlike huis’ en van
die boeregesinne in die omgewing. Hier begin ook sy belangstelling in
allerlei tipes mense en hul taalgebruik.”

Na skoolopleiding onder goewernante-onderwysers op Hoeko verwerf hy
aan die dorpskool op Ladismith die eerste plek in Kaapland in die
‘Elementary’ - en ‘School Higher’- eksamens. Twee jaar later verwerf
hy matriek aan die Eersteklas seunskool op Riversdal. Hier studeer hy
onder C.F. Rosenow van wie hy teen die einde van sy lewe sê: “Wat ek
aan hom verskuldig is, kan ek byna nie vertel sonder dat dit na
oordrywing klink nie.” Sy biograaf: “Aan sport neem hy nie deel nie,
want hy meen dat hy sy tyd nuttiger kan bestee.” Hy word egter
die stigter van ‘n debatsvereniging by sy skool en redakteur van ‘n skoolblad.

In 1893 gaan hy na die Victoria-kollege op Stellenbosch waar hy teen
1899 ‘n BA en LLB verwerf het. Na sy studentejare verwys hy as “my
onvrugbare studiejare” wat te wyte was aan ‘n "tugtelose gewoonte om
te leer soos ek lekker kry en nie verder nie". Dit was te wyte aan die
gebrek aan ‘n besielende ideaal en dit het sy werkywer reeds op skool
in Riversdal beïnvloed. Dit het gepaard gegaan met twyfel oor
politieke en godsdienstige sake. Sy ouers wou graag hê dat hy ‘n
predikant moes word, maar in een van sy geskrifte het hy die vraag
gestel: “Moet ek my ouers bedroef deur uitdruklik te melde dat ek
sekere leerstellings, waar hulle beskou my saligheid van afhang, nie
kan aanneem nie, of moet ek deur stilswye te kenne gee dat ek daaraan
vashou soos hulle?” Hy vind later jare geloofsekerheid en in sy boek
Skaduwees van Nasaret publiseer hy twee egte en ses verdigte briewe
waarin dit gaan oor ‘n aanvanklike geloofstryd wat eindig in ‘n vaste
geloof in God en Die Bybel. In Aan Stille Waters skryf hy: “Wat ons
aardse omgang en handel en wandel onder mekaar betref , het Jesus ons
geluk aangewys op die weg van liefdesdiens.”

In die sogenaamde taalstryd het Langenhoven hom in 1893 as volg
uitgespreek oor die feit dat Afrikaans nie ‘n letterkunde gehad het
nie: “For intellectual training Africander Dutch offers no scope for
it has no literature, and a very poor vocabulary.”

Vroeg in die 1900’s skryf hy ‘n artikel waarin hy wys op die
ongeskiktheid van die dooie taal Nederlands vir Suid-Afrika. Hy word
heftig aangeval deur die voorstanders van Hollands en luid toegejuig
deur Engelssprekendes. Dit word egter ‘n keerpunt in sy lewe m.b.t. sy
toekomstige seining van die taalkwessie. HY sê van daardie tyd af
“dateer my besieling om vir Afrikaans te stry. Dit het die mokerhoue
van my partygenote en kant-genote gekos om my warm te maak. En die
geveg wat gevlog het, het self gesorg dat die warmte nooit weer
afgekoel het nie.”

So dien hy bv. as lid van die Kaapse Provinsiale Raad op 23 April 1914
‘n mosie in - wat onbestrede aanvaar is - dat Afrikaans in die plek
van Nederlands in skole ingevoer word as voertaal vir graad een tot
vier. Dit was Langenhoven wat die verslag opgestel he twat in 1925 by
die gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat ingedien is,
waarin voorgestel is dat by Nederlands as tweede amptelike taal ook
Afrikaans ingereken word.

Met sy uiters produktiewe skryfwerk help hy ook om ‘n letterkunde vir
Afrikaans te skep en het “hy sy mense wyde en veel leer lees”. Sy
biograaf sê verder: “Langenhoven staan veral bekend as volkskrywer of
volkskunstenaar, want byna voortdurend wend hy hom met sy geskrifte
tot die volk wat hy wil probeer ophef.” Sy skryfwerk is na sy dood in
die bekende Versamelde Werke van Langenhoven gepubliseer wat uit 16
bande van ongeveer 400 bladsye elk bestaan.

Langenhoven is natuurlik ook bekend vir die skryf van Die Stem van
Suid-Afrika. Verder was hy ‘n gewilde redenaar wat vol kwinkslae was.
‘n Kwinkslag wat ek gehoor het aan hom toegedig is, is dat hy in die
Kaapse Provinsiale Raad - of dalk Volksraad of Senaat waarop hy ook
gedien het - op ‘n keer deur die Speaker aangesê is om sy opmerking
dat “die helfte van die lede van die vergaderings donkies is” terug
te trek. Hy doen dit toe met die woorde “die helfte van die lede van
die raad is nie donkies nie.” - By implikasie is die ander helfte dan
uiteraard nog steeds donkies.

Hy was getroud met die weduwee Magdalena Maria van Velden wat meer as
tien jaar ouer was as hy. Hulle he teen dogter gehad.

Langenhoven sterf op 15 Julie 1932. In sy testament het hy o.a.
bepaal dat hy eers drie dae nadat hy dood verklaar is begrawe mag word
en dat hy in ‘n oudmodiese swart kis sonder versielsels begrawe moes
word. Verder bemaak hy sy skedel aan die Universiteit van
Stellenbosch. Dit moes dertig jaar na sy dood opgegrawe word. Die
studentesentrum op
Stellenbosch staan vandag bekend as die Langenhoven gedenksentrum of
kortweg as die Neelsie.

Vriendelike groete

Daniel Jacobs
www.gendata.co.za


This thread: